Kommunistiese Party steun selfbeskikkingsregte

Mnr. Attie Beukes, leier van die Kommunistiese Party. Foto: Nampa

Mnr. Attie Beukes, leier van die Kommunistiese Party. Foto: Nampa

Catherine Sasman

Voorgelê deur Republikein op Wo, 2014-04-23 08:18

Die leier van die Kommunistiese Party (KP), mnr. Attie Beukes, het sy ondersteuning aan Rehoboth se Basterkaptein, John McNab, en die United People’s Movement (UPM) se uitoefening van selfbeskikkingsreg oor hul “historiese en onvervreembare eiendomsreg” uitgespreek.


Beukes, self oorspronklik van Rehoboth, sê McNab, die Rehoboth Bastergemeente (RBG) en die UPM se beroep op selfbeskikking is ook ‘n belangrike “politieke reg vir alle gemarginaliseerde, onderdrukte en uitgebuite Namibiese gemeenskappe”.
Hy sê dié beweging is om “weg van Swapo se jarelange etniese Owambo-oorheersing en wrede mishandeling van slawerny teenoor die regmatige eienaars van die gebied” te kom. Die KP gee sy “onmiddellike en onvoorwaardelike” steun en samewerking aan alle mense op Rehoboth, sê hy.


Die burgemeester, me. Eva Maasdorp, en stadsklerk, mnr. Theo Jankowski, het vroeër vandeesmaand in ‘n volbladadvertensie gesê McNab en die UPM gebruik onwettige grondbesettings op die dorp om stemme te wen.
Hulle het gesê die UPM is besig om die inwoners te mislei en om hulle in strydlustigdes te verander om die dorp onregeerbaar te maak.


Die KP-leier sê dit is die “sogenaamde Swapo-eenheidstaat” wat vir ‘n tydperk van 24 jaar ononderbroke “polities onderduims en ideologies ongrondwetlik” op Rehoboth opgetree het, “en beslis nie die Rehobothers nie”.
“Terwyl Swapo steeds skuil onder ‘n uiters verwronge eenheidstaat wat absoluut geen ware en demokratiese etniese verteenwoordiging van enige en alle Namibiese stamme bevat nie, het hulle vir amper ‘n kwarteeu onverpoosd met hierdie politieke bedrog voortgegaan,” sê Beukes.


In die proses, sê hy, het Swapo menseregte en demokrasie geskend en vertrap.
Beukes beskuldig ook vir Maasdorp en Jankowski daarvan dat hulle vir “korttermyn politieke gewin” bereid is om Rehobothers se eiendomsregte, bronne en bates te vervreem.


Die UPM het intussen oor die Paasnaweek ‘n klein vergadering op die dorp gehou waar hulle die ongeveer 200 teenwoordiges aangepor het om nie “geïntimideerd” deur die “Swapo-propaganda” (met verwysing na die volbladadvertensie) te voel nie, het UPM raadslid, mnr. Jan van Wyk gister gesê.

 

 

 http://www.republikein.com.na/politiek/kommunistiese-party-steun-selfbeskikkingsregte.222407

 

 

Alle SWATF en Koevoete nou kommuniste

Mnre. Attie Beukes, president van die Kommunistiese Party (CP) en Willem Beukes, komiteelid van die SWATF-Koevoet.  FOTO UERIKOHA TJIJOMBO

Mnre. Attie Beukes, president van die Kommunistiese Party (CP) en Willem Beukes, komiteelid van die SWATF-Koevoet.
FOTO UERIKOHA TJIJOMBO

Voorgelê deur Republikein op Di, 2013-07-23 08:13 – Uerikoha Tjijombo 

Dit is elke burger, insluitend die voormalige Suidwes-Afrikaanse soldate (SWATF) en Koevoet, se regomvir ’n party van hul keuse te stem.

Dit is die mening van die voorsitter van die komitee van voormalige Suidwes-Afrikaanse soldate, mnr. Lukas de Klerk. De Klerk het dié opmerking gemaak in reaksie op mnr. Willem Beukes, ’n komiteelid van die SWATF-Koevoetlede, se mediaverklaring Donderdag in Windhoek dat ’n totaal van sowat 21 000 SWATF- en 6 000 Koevoet-lede by die Kommunistiese Party aangesluit het.

“Ons wil hiermee alle voormalige lede van SWATF en Koevoet met hul families en vriende landwyd oor ons onmiddellike en toegewyde uitvoering van ons politieke besluit inlig,” het Beukes gesê.
Hy voer aan dat die Swapo-regering vir die afgelope 23 jaar teen hulle gediskrimineer, hulle gemarginaliseer en sosioëkonomiese sanksies op hulle afgedwing het.
Beukes meen dat die Kommunistiese Party hulle verwelkom en geadviseer het hoe om hul stryd teen die Swapo-regering aan te voer.

Ons het ons kwessie verpolitiseer sodat dit die nodige aandag sal kan geniet en die Kommunistiese Party was die enigste voertuig waarop ons kon klim,” het hy gesê.
Die president van die Kommunistiese Party, mnr. Attie Beukes, wat die nuwe lede verwelkom het, het dit duidelik gemaak dat hulle nie tevrede is met die leierskap van die voormalige en die huidige presidente van Namibië, mnre. Sam Nujoma en Hifikepunye Pohamba, nie.
Hy het hom ook skerp uitgelaat oor hul weiering om die voormalige SWATF- en Koevoetlede as oorlogsveterane te erken, wat hy as ’n skending van menseregte beskou.
De Klerk meen dat die verpolitisering van die voormalige SWATF- en Koevoetlede se kwessie nie na wense is nie.

Ons glo in onderhandelinge en samesprekinge en ons reik ’n hand van samewerking na die regering uit om ons te help om ons deel van die koek van die Suid-Afrikaanse regering te kry,” meen De Klerk.
“Ons het vir die Suid-Afrikaanse regering gewerk, hoewel dit onder verpligte diensplig was en ons verplig was om teen ons eie mense te veg,” het hy verder gesê. Volgens De Klerk het die sekretaris van Swapo, mnr. Nangolo Mbumba, vanuit ’n politieke oogpunt gereageer en dit behoort nie die regering se mening te wees nie.

De Klerk sê die onderhandelinge met die Suid-Afrikaanse regering vorder baie goed en lê tans op die Suid-Afrikaanse minister van verdediging se tafel. Hy sê hulle het ’n afspraak met die eerste minister, dr. Hage Geingob, gemaak en hulle wag op ’n datum om hom te sien. Dit volg nadat die minister van veteranesake, dr. Nickey Iyambo, hul versoek om hom te sien, van die hand gewys het.
Voorts het verskeie voormalige SWATF- en Koevoetlede hul mening oor die Kommunistiese Party se optrede van “witvoetjie soek” uitgespreek.

“Dit is die Kommunistiese Party se manier om meer stemme vir die komende verkiesing te verwerf,” het ‘n lid gesê.

http://www.republikein.com.na/politiek/alle-swatf-en-koevoete-nou-kommuniste.208223

Kommunistiese Party gee raad oor Herero Mall

Voorgelê deur Republikein op Do, 2011-08-18 01:00

DIE Kommunistiese Party (KP), onder die leierskap van mnr. Attie Beukes, het sy ontevredenheid met die teenwoordigheid van die polisie by die onlangse gewelddadige voorvalle by die Herero Mall uitgespreek. In ‘n verklaring sê die KP die polisie se teenwoordigheid is uitlokkend, verontregtend, diskriminerend en ondermynend teenoor entrepreneurs se aktiwiteite by die Herero Mall.

Die KP meen betekenisvolle dialoog moet sonder die teenwoordigheid van gewapende magte plaasvind. Die party meen die laaste voorval by die Herero Mall het blatante politieke diskriminasie teen een stam in die Namibiese gemeenskap uitgewys, terwyl ‘n ander stam in dieselfde situasie ‘n posisie van relatiewe voordeel geniet.

Die party glo die sjebeens en ander verwante klein ondernemings wat by die Herero Mall en op ander plekke in die land opskiet, is die gevolg van ‘n verswakkende sosioëkonomiese toestand in die digbevolkte gebiede van die land en mislukte pogings aan die kant van die Swapo-gedomineerde stadsraad om volhoubare dienste te voorsien wat by die behoeftes van die belastingbetalers weerklank vind?

Die stadsraad het ‘n verantwoordelikheid teenoor die eienaars van sjebeens en ander klein ondernemings en diegene by die Herero Mall en moet as ‘n saak van dringendheid met hulle in gesprek tree om te bepaal wat vir hulle die beste sal wees,? lui die verklaring. Verder is ‘n beroep gedoen dat die stadsraad aandag aan die probleem van sanitasie en beligting by die Herero Mall moet gee, asook die sekuriteit daar opskerp.