Kommunistiese Party steun selfbeskikkingsregte

Mnr. Attie Beukes, leier van die Kommunistiese Party. Foto: Nampa

Mnr. Attie Beukes, leier van die Kommunistiese Party. Foto: Nampa

Catherine Sasman

Voorgelê deur Republikein op Wo, 2014-04-23 08:18

Die leier van die Kommunistiese Party (KP), mnr. Attie Beukes, het sy ondersteuning aan Rehoboth se Basterkaptein, John McNab, en die United People’s Movement (UPM) se uitoefening van selfbeskikkingsreg oor hul “historiese en onvervreembare eiendomsreg” uitgespreek.


Beukes, self oorspronklik van Rehoboth, sê McNab, die Rehoboth Bastergemeente (RBG) en die UPM se beroep op selfbeskikking is ook ‘n belangrike “politieke reg vir alle gemarginaliseerde, onderdrukte en uitgebuite Namibiese gemeenskappe”.
Hy sê dié beweging is om “weg van Swapo se jarelange etniese Owambo-oorheersing en wrede mishandeling van slawerny teenoor die regmatige eienaars van die gebied” te kom. Die KP gee sy “onmiddellike en onvoorwaardelike” steun en samewerking aan alle mense op Rehoboth, sê hy.


Die burgemeester, me. Eva Maasdorp, en stadsklerk, mnr. Theo Jankowski, het vroeër vandeesmaand in ‘n volbladadvertensie gesê McNab en die UPM gebruik onwettige grondbesettings op die dorp om stemme te wen.
Hulle het gesê die UPM is besig om die inwoners te mislei en om hulle in strydlustigdes te verander om die dorp onregeerbaar te maak.


Die KP-leier sê dit is die “sogenaamde Swapo-eenheidstaat” wat vir ‘n tydperk van 24 jaar ononderbroke “polities onderduims en ideologies ongrondwetlik” op Rehoboth opgetree het, “en beslis nie die Rehobothers nie”.
“Terwyl Swapo steeds skuil onder ‘n uiters verwronge eenheidstaat wat absoluut geen ware en demokratiese etniese verteenwoordiging van enige en alle Namibiese stamme bevat nie, het hulle vir amper ‘n kwarteeu onverpoosd met hierdie politieke bedrog voortgegaan,” sê Beukes.


In die proses, sê hy, het Swapo menseregte en demokrasie geskend en vertrap.
Beukes beskuldig ook vir Maasdorp en Jankowski daarvan dat hulle vir “korttermyn politieke gewin” bereid is om Rehobothers se eiendomsregte, bronne en bates te vervreem.


Die UPM het intussen oor die Paasnaweek ‘n klein vergadering op die dorp gehou waar hulle die ongeveer 200 teenwoordiges aangepor het om nie “geïntimideerd” deur die “Swapo-propaganda” (met verwysing na die volbladadvertensie) te voel nie, het UPM raadslid, mnr. Jan van Wyk gister gesê.

 

 

 http://www.republikein.com.na/politiek/kommunistiese-party-steun-selfbeskikkingsregte.222407

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s